Padmerke

Verstaan Padlynmerke

Sperlyne

Waar: Op enige pad met tweerigtingverkeer.

Doel: Om jou in te lig dat jy nie oor hierdie lyn mag gaan nie.

Optrede: Jy mag onder geen omstandighede aan die regterkant ry of hierdie lyne met enige deel van jou voertuig oorsteek nie, behalwe om om ’n stilstaande voertuig of stilstaande hindernis in die pad te ry.

Sperlyne op ’n tweerigtingpad

Kanaliseringslyn

Waar: Op rywee en by kruisings waar verkeer in dieselfde rigting beweeg.

Doel: Om jou te verbied om die lyn oor te steek.

Optrede: Ry op so ’n wyse dat geen deel van jou voertuig die lyn oorsteek nie.

Kanaliseringslyn by ’n kruising

Linkerrand- en regterrandlynmerke

Waar: Aan die linker- en regterrand van die pad.

Doel: Om aan te dui waar die linker- of regterrand van die pad is.

Optrede: Vermy dit om links van die linkerrandlyn te ry. Jy mag egter slegs hier ry:

• terwyl jy deur ’n ander voertuig verbygesteek word,

• indien jy dit kan doen sonder om jouself, ander verkeer, voetgangers of eiendom in gevaar te stel,

• gedurende die dag, en

• indien persone en voertuie op die pad duidelik waarneembaar is op ’n afstand van ten minste 150 meter.

Dit is nie verpligtend om links van die lyn te ry wanneer jy verbygesteek word nie; hou in gedagte dat jy baie min ruimte het wanneer jy dit doen.

Indien jou voertuig onklaar raak, hou so ver links van die lyn as moontlik stil en skakel jou noodligte aan.

Die regterrandlyn word gewoonlik op eenrigtingpaaie soos dubbelrywee of snelweë gevind, en mag nie oorgesteek word nie.

Linkerrand- en regterrandlynmerke op ’n pad