Aanvullende plate
Waar: Onder ’n ander teken.
Doel: Om meer inligting te gee oor die hoofboodskap op regulerings-, waarskuwings- of diagrammatiese aanwysingstekens.
Optrede: Gee aandag aan hierdie tekens om te besef wat die gevaar is, wat ’n veilige spoed is, hoe ver die gevaar is, en oor watter afstand die gevaar sal voortduur.
Inligtingsentrum
Waar: Langs die ingang van ’n parkeerarea, of in die boonste regter- of linkerhoek van ’n kennisgewingbord.
Doel: Om jou in te lig oor die bestaan van ’n inligtingskantoor of kennisgewingbord.
Optrede: Jy kan by hierdie teken inligting oor die omgewing kry.
Gekoördineerde verkeersseine
Waar: Aan die linkerkant van die ryweg voor ’n kruising.
Doel: Om jou in te lig dat die verkeersseine op hierdie roete gekoördineer is, en dat die seine by al die daaropvolgende kruisings groen sal wees indien jy die aangeduide spoed handhaaf.
Optrede: Handhaaf indien moontlik die aanbevole spoed. Maak egter seker dat dit veilig is om elke kruising binne te gaan, en kyk uit vir bestuurders wat nie toegee nie. Die spoed wat aangedui word, is ’n aanbeveling en nie ’n spoedbeperking nie.
Padeksperiment
Waar: Aan die linkerkant van die pad.
Doel: Om jou in te lig oor ’n tydelike eksperiment of navorsing wat op die pad uitgevoer word.
Optrede: Gehoorsaam alle ander padverkeerstekens. Kyk uit vir voertuie, voetgangers en ander gevare wat by die eksperiment betrokke is.
Meerfase-verkeersseine
Waar: By kruisings, op dieselfde paal as die verkeersseine, onder die seinkop.
Doel: Om aan te dui dat die seine by hierdie kruising nie die normale volgorde volg nie. By ’n normale kruising sou jy verwag dat die sein in jou rigting na groen verander nadat die sein vir kruisverkeer geel was. By hierdie kruising kan jou sein rooi bly terwyl die sein in die teenoorgestelde rigting na groen verander.
Optrede: Moenie wegtrek wanneer aankomende verkeer wegtrek nie. Wag totdat die sein groen is. Die volgorde van die verkeersseine by hierdie kruising kan verskil gedurende normale tye en gedurende spitstye.
Vervoerwisseling
Waar: Aan die linkerkant van enige pad.
Doel: Om aan te toon dat daar ’n vervoerwisselingspunt of terminus naby is waar passasiers van een vervoermiddel na ’n ander kan oorklim.
Optrede: Maak seker dat dit veilig is om stadiger te ry en stil te hou om iemand af te laai of op te laai. Kyk ook uit vir voetgangers wat die pad kan oorsteek.
Pass